NG Gemeente Brakpan Noord

Tuiste

EREDIENS 09:00 VM

Welkom by NG Brakpan Noord gemeente 

DIE HUIS VAN DIE HERE VS DIE KERK.

Ek wil he dat ons hierdie sal lees, dit inneem en dit diep bepeins. Dit is Sondag…. Gaan jy kerk toe of gaan jy die Huis van die Here besoek. Daar is n verskil tussen kerk toe gaan en die Huis van die Here besoek. As ek kerk toe gaan dan word ek kwaad omdat iemand my parkeerplek onder die koelte boom geneem het, en as ek die kerk instap dan vervies ek my omdat iemand MY plek ingeneem het. Of dit nou besoekers is of nie dis die plek waar EK elke Sondag sit. En dan sit ek en rondkyk om te sien wie se rok die mooiste is en wie het alweer dieselfde rok as twee weke terug aan. En as ek kerk toe gaan dan wil ek nie he almal moet my hand skud nie want jy weet nie wie hulle hand gewas het en wie nie. By die kerk bondel ons saam om eers gou die predikant se preek aan flarde te trek of te praat oor die sangleier wat alweer dieselfde liedjie as laas wees gesing het. MAAR as ek na die Huis van die Here gaan dan stap ek daar in met n lied in my hart want ek het vroeg oggend al vir die diens gebid en die Vader gevra om Sy Heilige Gees uit te stort oor almal wat teenwoordig is. As ek die Huis van die Here besoek is my oe so gevul met trane van dankbaarheid en die teenwoordigheid van die Vader dat ek nie eers sien wat mense dra nie, ek gee nie om waar ek sit nie solank ek net Sy Heerlikheid kan indrink. Ek is nie daar uit pligs besef nie, nee, nee, duisend maal nee, ek is daar omdat daar n honger en n dors in my siel is na my Skepper. Ek gee nie om as my motor in die son moet staan nie, ek sal selfs loop as ek net Sy liefde kan ervaar. As ek na die Huis van die Here gaan dan word ek sag soos botter omdat die Vuur van die Heilige Gees al die harde knoetse weggesmelt het. In die Huis van die Here luister ek met groot aandag na die Woord omdat dit God se woord is en ek wil hoor wat die Gees vandag vir my persoonlik se. Die sange is hemels in die Huis van die Here omdat ek weet God woon in die lofsange van Sy kinders. Daarom se Dawid, ek was bly toe hulle vir my se laat ons na die Huis van die Here gaan. Hy was nooit bly toe hy die beer en de leeu verslaan het nie. Ons lees nooit dat hy bly was toe hy Goliat gedood het nie, ons lees nooit dat by bly was toe hy as koning gesalf was nie, maar hy was bly toe hy na die Huis van die Here kon gaan. Ek hoop almal het n geseende Sondag. Raak stil in jou binnekamer en gaan na die Huis van die Here met verwagting en kyk hoeveel seeninge jy ontvang. 

DANKBETUIGING

Hiermee betuig die Kerkraad en Gemeentelede van die Nederduitse Gereformeerde Gemeente, Brakpan-Noord, on Hemelse Vader vir U Alomteenwoordigheid in ons doen en late in hierdie Gemeente. Ons Gebed is dat U altyd by ons sal wees, en dat U hierdie gemeente sal oorlaai met U seëninge.

Ons bedank ook elke oud-leeraar en hulle gesinne vir die bydrae wat hulle tot hierdie gemeente gemaak het in die verlede. Dankie aan elke man, vrou en kind wat so getrou deelneem, en hierdie gemeente dien met oorgawe. Dan ook baie dankie aan ons leraar, Ds Kotie Marais, en sy gesin vir die toewyding en entoesiasme waarmee hulle hierdie gemeente dien. Soli Deo Gloria – Aan God al die eer!

GEMEENTEVISIE

 Ons gemeente streef daarna om aan die hand van 1 Petrus 2:5 te funksioneer as ‘n geestesfamilie tot eer van God, in diens van Sy Koninkryk en tot verheerliking van Sy Naam. 

Wie is Brakpan-Noord

Hoe beskryf mense ons gemeente, die volgende is al gehoor :

  1. Die kerk by die swembad.
  2. Die kerk wat lekker sing.
  3. Waar daar lierde en warmte is.
  4. Waar jy welkom voel.
  5. Waar jy jouself kan wees.
  6. Die gemeente wat kermis hou en Vrystaatse vleis verkoop.
  7. Wat X-mas in July hou en golf speel dat dit klap.
  8. Die gemeente wie se dominee al gearresteer is omdat hy vir die gemeente geld wil insamel.
  9. Die gemeente wie se dominee van tuinmaak hou, ‘n vurige “Cheetah-ondersteuner” is en wie se kinders besig en sportief is.
  10. Wat in November elke jaar ‘n groot dankfees hou.
  11. Wat biltong en brood geniet tydens nagmaalfees net voor Goeie Vrydag.
  12. Die gemeente waar ons na eredienste lekker saamkuier in die saal rondom koffie en koekies.
  13. Waar broers ‘n manneaand hou sonder om hande uit te ruk.
  14. Die gemeente wat die skoolhoofde, onderwyers en beskermingsdienste uitnooi vir toewydingsdienste.
  15. Die gemeente wie se wit bus ‘n bietjie stadig is – maar by bring jou daar.
  16. Waar selgroepe redelik goed funksioneer.
  17. Die gemeente met die mooi plaveisel, en dan
  18. Die gemeente waar God eerste gestel word en waar Hy aanbid word deur woord, sang en gees.

Word deel van Brakpan-Noord en ervaar die Liefde en warmte van ons mense.

Die NG Gemeente, Brakpan-Noord, het op 27 November 1958 afgestig van Brakpan Moedergemeente.

Nadat die gemeente afgestig het, is eiendom te Gardinerlaan 99 aangekoop. Die eiendom is gekoop omdat daar reeds ‘n huis was, wat kon dien as pastorie. Van die ander geboue kon gebruik word vir biduur en K.J.A byeenkomste. Dan kon die tennisbaan ook nog afgebreek word om die kerk op te rig. Die Kerkraad wou eers net ‘n saal bou, maar na hul ontmoeting met die argitek, mnr B. de W. Hartman, het hulle besluit om dadelik voort te gaan met die oprigting van die kerkgebou. Die oorspronklike kerkgebou is deur mnr P de Wet gebou vir ‘n bedrag van R33 000.00, wat die meubels en die buite paadjies ingesluit het. Die inwyding van die Kerkgebou was op 20 Mei 1961. Die oorspronklike lidmaattal was net meer as 550, en het met ‘n deur-tot-deur opname gegroei tot 640. Alhoewel die oprigting van die kerkgebour ‘n wyse besluit was, het dit gesorg dat die gemeente heelwat uitgawes en ‘n groot klomp skuld gehad het. So het die gemeente byvoorbeeld in 1968 ‘n bedrag van R47 000.00 geskuld, met ‘n karige bydrae van om en by R700.00 per maand. Tans is daar ‘n redelike getal van ons gemeentelede wat buit die demografiese grense van die gemeente bly, maar die gemeente bedien hoofsaaklik die Noordelike gedeelte van die dorp, wat Brakpan-Noord, ‘n gedeelte van Brakpan-Sentraal en Anzac insluit. Die gemeente bestaan uit 872 belydende lidmate en 283 dooplidmate. Die gemiddelde ouderdom van die gemeentelede is 39 jaar. Gemeentelede word die geleentheid gegun om die Here te dien deur betrokke te wees by verskillende bedieningsgroepe in die gemeente. Daar is 15 verskillende bedieninge, wat wissel van ‘n groet-bediening to finansies en administrasie. Ons maak ook gebruik van 9 selgroepe, waar gemeentelede op ‘n informele manier dieper ondersoek kan instel na die wonderlike waarhede van ons Hemelse Vader.

Scroll to Top